Archive

Tags

No tags yet.

Recent Posts

Karoo Jag op sy Beste

Die Aankoms

Moos is sy naam. Daardie vriendelike gesig wat altyd op die plaas vir my en my kliënte staan en inwag. Hierdie keer was dit Derek Whitehead en sy twee seuns Philip en John-Derek wat voor my by die jagplaas aangekom het daar diep in die Karoo anderkant Beaufort Wes. Die 10 000 Ha plaas het geen binne heinings nie so die bokke kan loop waar hulle wil. Ons jag ook amper uitsluitlik op die loop en bekruip metode so ek het sommer vooraf geweet dat hierdie 'n lekker paar dae gaan wees.

Daar is sewe van hulle. Lekker ingerigte chalets gebou in'n vallei waar dit sommer teen vyfuur al begin donker raak in die winter. Die eens groen gras wat gelei word met soet Karoo boorgat water is nou spierwit. Twee weke gelede toe ek 'n ander jag groep plaas toe gebring het was die gras nog groen genoeg dat die Impalas voor die chalets kom wei het. “Dit is die ryp meneer” se Moos sonder dat ek eers 'n vraag gevra het en ek weet dat vanaand gaan daai elektriese kombers in die chalet beslis aangeskakel word. In die koue Karoo kan 'n mens mos vergeef word as jy jou kliënte wil bederf met so 'n klein luuksheid op 'n jagtog.

Die eerste orde van besigheid is om al die vorms te teken en seker te maak elke persoon het 'n jaglisensie. Ons wil mos wettig jag. Na die administrasie is die afpak en dan die alom belangrike geselsie. Dit is hier waar ons sommer oor alles gesels – van die uitleg van die plaas tot wapen veiligheid tot wat in die kospakkies is. “Wanneer laas het jy gejag en hoe ver is jy gemaklik om te skiet” is van die eerste vrae. Op die plaas jag ons groot bokke gewoonlik op so 100 tot 200 meter maar Springbokke jag ons op so 280 tot 350 meter. Na almal hul beurt gehad het maak ons 'n ooreenkoms dat as daar 'n gewonde bok verder as 350 meter staan dan sal ek die skoot neem. Dit is belangrik om die dinge vooraf ooreen te kom sodat daar nie misverstand in die veld kom nie. “Jy klim nie op of van die voertuig af met 'n wapen in jou hand nie”. “Daar is nooit 'n rondte in die kamer behalwe as jy reg is om die skoot te trek nie”. “Op die plaas het geen wapen 'n veiligheids knip nie so vergeet hy bestaan – hou eerder jou slot half oop”.

Die res van die middag spandeer ons op die skietbaan en ek dring aan dat daar van die stokke af geoefen word want dit is aldus hoe die jag gaan plaasvind. Weens die droogte in die Karoo groei die bossies nie veel hoer as jou enkel nie en die mees algemeenste posisie is om plat op jou boude te sit en oor kort stokke te skiet. Min mense oefen die posisie so dit is belangrik dat hierdie skiet tegniek bemeester word. Philip skiet sommer 'n bars hou met sy nuwe wapen wat se lisensie so 'n paar weke gelede goedgekeur is. Hierdie sal die wapen se eerste jag wees en ek wonder of ons die wapen moet bloed smeer of vir Philip. Na 'n paar skote is John-Derek ook op die teiken en toe is dit pa Derek se beurt met sy .300 win mag. Die wapen spog met 'n baie interessante teleskoop wat se turrents nie doppies oor het om verskuiwing te stop nie en hierdie sal later in die jag nogal belangrik raak. Dit kort so 'n paar skote om op die teiken te kom maar almal is gelukkig en ons is terug chalets toe om die vuur aan te steek. Dit raak vinnig sommer baie koud en ek weet daardie elektriese komberse is al lankal aangesit om die kooi mooi warm te maak.

Jag op die Berg

Die 10 000 hektaar plaas is in twee gedeel deur 'n redelike hoe berg. Bo op die berg is daar lekker klowe en valleie en baie plek vir loop en bekruip jag en dit is waarna toe ons op pad is vroeg op hierdie winters oggend. Dit neem so 45 minute voor die Landrover Dubbel Kajuit jagbakkie die 4x4 roete tot bo op die berg uitgeklim het in lae bestek. Die kajuit verwarmer blaas lekker hier op Derek en my se voete en dit is op oggende soos hierdie dat ek bly is ek bestuur en sit nie saam met Moos, Philip en John-Derek agter op nie. Ek hoor Moos is op sy stukke. Hy het mos 'n nuwe gehoor elke keer as daar nuwe jagters op die plaas aankom. Tydens ons geselsie die vorige dag het ek vir hulle gewaarsku om nie vir Moos te vra oor waar sy familie vandaan kom nie maar hulle het duidelik nie geluister nie. Ek hoor hoe begin Moos vertel van sy voorsate wat diep in die Kalahari hul tuiste gemaak het voor daar nog enige drade gespan was en ek weet dat Philip en John-Derek se oor gebuig gaan word vir ten minste die volgende 2 ure.

Die plan is dat die seuns eerste gaan skiet vanoggend indien ons op Blouwildebees of Springbok afkom. Pa Derek is agter Gemsbok en Eland aan maar soos dit wou is dit die Gemsbokke wat eerste hul verskyning maak. Ons stop in 'n laagte en maak reg vir die eerste bekruip van die dag. Hy is een van die beste spoorsnyers en diere kenners wat ek al ontmoet het so ek laat altyd vir Moos heel voor stap, dan stap Derek met daardie mooi .300WM en die interessante teleskoop en agter kom ek met die .308 net vir ingeval iets sou skeefloop. Die seuns het 'n lekker uitkyk pos van agter van die jagbakkie af en met die verkyker en radio kan hulle beide die bokke dophou en met ons gesels. Die Gemsbokke loop so 800 meter van ons af en wei van links na regs. Moos ken die wêreld goed en onmiddellik pak hy 'n bekruip in wat enige loop en bekruip jagter sal trots maak. Die bokke hou aan beweeg en op 245 meter steek ons vas agter 'n klip met 'n oop skoot op 'n baie mooi groot Gemsbok bul. “Kan ons bietjie nader kom” se Derek en hande viervoet kom ons nog so 30 meter nader. Derek sit op sy boude agter die skietstok toe die Gemsbok plankdwars vassteek en vir ons kyk. “Gaan reguit by die voorbeen op. Een derde van onder van die liggaam af. Vat die skoot nou” se ek terwyl ek deur die verkyker kyk - maar niks gebeur nie. Ek loer links na Derek waar hy besig is om onder sy boude rond te krap. Na wat vir my voel soos 'n half uur maar seker net 'n paar sekondes was kom Derek agter die teleskoop in net soos die Gemsbok en sy hele trop ons reuk kry en die berg uit draf. 'n Man kan seker nie met 'n doring in sy boude op 'n bok aanlê en nog verwag om raak te skiet nie dink ek by myself. “Daar sal nog kanse wees” se ek vir Derek en roep die bakkie op die radio om ons op te tel. Die res van die oggend sien ons baie wild maar dit is elke keer te ver of hulle is op die hange en ons in die vallei. Ek besluit dit is tyd vir middag ete en draai af na die droë rivier bedding onder die windpomp om 'n worsie te braai want dit is al twintig oor twaalf.

Eland Teen die Hange

Doef, doef, doef kom die geklop aan die bakkie se dak en ek trap hard op die remme. Ek fokus so op die klein 4x4 spoor die rivier bedding in dat ek glad nie die Elande teen die anderkant van die hang sien nie. Die stof het nog nie gele nie en John-Derek is reg, die dier is geïdentifiseer en die skoot klap. Die Eland koei stap so 'n paar tree en sak inmekaar en die res van die trop stap 'n paar tree aan. “Ek soek ook 'n Eland” se pa Derek en die twee van ons sluip so 'n ent nader en op 80 meter praat daai mooi .300WM en die Eland bul val op die plek neer. Die hele oggend sukkel ons en hier binne vyf minute le twee Elande maar daar is 'n probleem. Op so 280 kg geskatte gewig per dier sit dit nie in ons gesamentlike broeke om daardie Elande berg af bakkie toe te dra nie. Na 'n debat is die besluit om die Landrover se wenas te gebruik om die Elande die berg af te sleep, dan die binnegoed uit te haal en dan die karkasse te laai. Alles verloop heel goed met John-Derek se bok maar pa Derek se bok le nog verder berg op. Die voertuig word herposisioneer, die wenas word heeltemal afgerol, die sleepbande word uitgerol en ons is nog steeds kort. Agter in die gereedskap tas krap iemand nog 'n tou uit en nou kan die kabels by die Eland uitkom. Dit is twee dertig daardie middag voor altwee karkasse gelaai is. “Nou gaan ons braai” se ekke. “Nee, nou gaan ons jag” stem die groep en na 'n vinnige toebroodjie en 'n koeldrank is ons dieper die berg in met die Landrover.

Daardie middag skiet Philip 'n vreeslike mooi Blouwildebees met sy nuwe 7 mm geweer voor ons uiteindelik omdraai en die pad berg af aanpak. Van die omdraai punt tot aan die onderkant van die berg sal dit net oor 'n uur neem en ek wil nie in die donker die nou spoor berg af aandurf nie. Die son begin net agter die berg verdwyn toe staan ons aan die bopunt van die berg paadjie met die mooiste grootste Gemsbok reg voor ons op 120 meter. Pa Derek sit weer voor in die bakkie saam met my en daar word na gewere gegryp. “Hoe gaan ons hom laai?” kom die woorde van wysheid agter van Moos af en ek roep vinnig halt. Daar is al klaar twee Elande en 'n Blouwildebees in die bak en die Gemsbok gaan nie pas nie. Die donkerte is besig om om ons toe te vou en ons moet nog berg af. “Daar sal nog kanse wees” se ek vir Derek en stadig sak ons die berg af in 1st rat lae bestek op pad na die slagpale, die aand se vuur en daardie lekker elektriese kombers.

Vandag is dit net Springbokke

Dit is nog donker toe ek die oggend opstaan en die kraan oopdraai maar daar kom niks water uit nie. Nou as ek in die Kaap was sou ek gereken het dat die damme uiteindelik heeltemal leeg geloop het maar hier in die Karoo op die jagplaas gebruik ons net boorgat water. Daar kon dus net een verduideliking wees – al die water pype is vas gevries. Gelukkig het ek die vorige aand klaar gestort en skakel die ketel aan vir 'n koppie koffie. John-Derek en Philip het ook gestort die vorige aand so net pa Derek moes klaarkom met 'n ketel en waslap.

Ons is weer vroeg uit en pa Derek en ek sit lekker voor in die warm kajuit van die Landrover terwyl die seuns en Moos agterop sit en uitkyk vir die Springbokke. “Ek dink ons moet hier afklim dan stap ek met meneer Philip so om die berg en kry julle in die vlakte” se Moos. Die plan klink goed en soos hulle wegstap gewaar ons 'n klein troppie Koedoes sommer so 150 meter van ons af. Die Koedoes was glad nie op die skiet agenda nie so ek gebruik toe die kans om bietjie skootplasing opleiding te doen met pa Derek en John-Derek. “Reguit met die voorbeen op en een derde van onder af” se ek voor ons weer verder ry.

Dit was nie lank nie en ek staan weer op die remme. Reg voor ons in die pad op 100 meter staan twee prag Gemsbokke. “Moet ek afklim” vra pa Derek. “Nee skiet sommer van bo af” se ek. “Die linkerkantse een” maar pa Derek is nog besig om die sakkie op die dak reg te skuif toe draf die Gemsbokke berg uit. Na die vorige dag se lang sukkel om die Elande te herwin hoor ek sommer die ratte in sy brein woel of hy die skoot moet vat of nie. “Daar sal nog kanse wees” se ek vir Derek soos ons verder ry en nou 'n trop van by die 60 Springbokke dophou. Dit is uit die trop dat John-Derek Springbok nommer een plat trek vir die dag. So jag ons lekker die hele dag lank met 'n kort breuk in die middel om die kospakkies pakslae te gee. Ry tot ons die diere sien, klim af en bekruip, roep die voertuig en ry dan verder. Daar word etlike kilometer gestap deur die dag en Philip voeg nog twee Springbokke by die dag se totaal (Photo 7 – “Philip en John-Derek by Philip se twee Springbokke”)maar by die slagpale aangekom sien ons hoe mors sy splinter nuwe 7 mm met 'n Springbok se blaaie.

Die aand word daar 'n groot geselsvuur aangepak en ons braai en kuier lekker maar op almal se gedagtes is pa Derek se Gemsbok en daar is nog net een dag van jag oor. Net so vir die wis en onwis besluit ek weer om die aand te stort net ingeval die waterpype nie wil saamwerk die volgende oggend nie. “Ek hoop ons kry 'n Gemsbok vir Derek” is die laaste gedagtes wat deur my kop gaan voor daai elektriese kombers my insluk vir die aand.

Die amper Gemsbok

Dit is die laaste dag van jag en met so 'n ligte wolkbedekking is dit nie te koud vanoggend nie. Pa Derek met sy .300WM en Philip sit agter vanoggend saam met Moos en John-Derek sit voor in die Landrover saam met my. Ons gaan vlaktes toe vandag en die plan is om vir Gemsbok te soek tot en met een uur. Indien ons niks kry nie dan kan die seuns nog Springbokke skiet. Ons was nie 10 minute uit die kamp uit nie toe die eerste Gemsbok gewaar word teen 'n hang. Ons stop, bestudeer die bok, en sien dit is 'n klein bul en ry verby. Vyf honderd meter verder sien ons weer 'n Gemsbok. Dit is 'n pragtige mooi groot vet ooi en sy is duidelik dragtig so ons ry maar verby. Om die kop kom ons en amper op dieselfde plek as die vorige dag gewaar ons 'n trop van sewe Gemsbokke met 'n paar groot bulle in. Hulle loop rustig die berg uit op 'n afstand van so 820 meter maar dit is te hoog en te ver so ons ry maar verby. “Daar sal nog kanse wees” se ek vir Derek wat nou al begin moedeloos voel.

Die vorige dag het ek gehoor dat die wildstellers met die helikopter by die 1400 Springbokke (Photo 9 – “Die Springbokke loop saam met ons”) op die plaas getel het en soos ons ry die oggend op soek na Derek se Gemsbok blyk dit dat meer as die helfte van daai Springbokke saam met ons loop. Om elke draai en in elke kloof en in elke vlakte kry ons nog Springbokke op afstande van 40 meter tot 200 meter. Ons stop gereeld en ek neem baie foto’s want niemand gaan glo dat so baie Springbokke so naby aan die bakkie in die Karoo was nie.

Doef, doef, doef kom die geklop aan die bakkie se dak en ek trap weer hard op die remme. Op linkerhand op 180 meter staan twee groot Gemsbok bulle. “Skiet die regterkanse een” se ek en die skoot klap voor die Gemsbok vas. “Herlaai, skiet weer” se ek en die skoot gaan bo die Gemsbok verby. Die bokke staan nie lank genoeg nie en verdwyn oor die heuwel. “Daar sal nog kanse wees” se ek vir Derek en soos ons om die berg kom staan die twee Gemsbokke op 200 meter. “Klim af en staan agter teen die voertuig. Skiet die agterste een”. Derek beweeg agter om die voertuig en vat dooie rus en die skoot klap. “Dit is hoog, skiet weer” se ek en nog 'n skoot klap. “Dit is links, skiet weer” se ek en nog 'n skoot klap. “Dit is voor verby, skiet weer” en die skoot klap. “Dit is onder hom. Staan vas. Moenie weer skiet nie”.

“Daar is geen manier wat een mens so mis kan skiet nie. Skiet na die miershoop. Hy is 220 meter berg op” se ek. Derek le aan en skiet en die skoot slaan aan die onderkant voor die miershoop vas. “Gebruik Philip se 7 mm en skiet daar klein wit klippie langs die miershoop”. Soos hy skiet spat die klip in stukke en dit is duidelik dat daar niks fout is met Derek se skietvernuf nie. Daai interessante teleskoop op daai mooi .300WM wat se turrents nie doppies oor het om verskuiwing te stop nie moes lekker in die geweersak en op die agter sitplek gerol het elke keer as die wapen gehanteer was en die mikpunt was duidelik heeltemal uit.

Toe die klok een uur slaan en daar nog nie 'n Gemsbok platgetrek was nie verdwyn al die Springbokke. Geen mens sal dit glo as jy nie self daar was nie maar kilometers se ry lewer nie 'n enkele Springbok op nie. Philip skiet later op 380 meter maar is onsuksesvol en so besluit ons om terug te gaan chalets toe en 'n vroeë vuur aan te steek. So een kilometer voor die kamp kom ons gelukkig op 'n troppie Springbokke af wat duidelik nie horlosies dra nie en John-Derek trek een plat. (Photo 8: John-Derek se laaste Springbok”) Die bokke maal rond en Philip kry 'n skoot op nog 'n bok. “Skiet hom in die kop met daai 7 mm sodat jy darem 'n vleisie het” se ek en op 100 meter skiet Philip die laaste bok van die jag.

Ek was vreeslik bevoorreg om die tyd in die veld te kon spandeer saam met Derek en sy twee seuns, Philip en John-Derek en aan die een kant is dit miskien nie so sleg dat Derek toe nie sy Gemsbok gekry het nie want dan sou daar niks wees om na uit te sien vir volgende jaar se jag nie. “Moos – hou die kamp reg, die manne kom weer”.


Become our Friend
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon

100 % Satisfaction Guaranteed

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now